Text

Karoonag

Die hemelruim se sterreprag
waak oor ‘n slapende landskap
van koppies, randjies en amperse berge
en die liggies van rustige lewenswyses
wat plek-plek in die donkerte flikker.

‘n Paddakoor sing klik-klik
in verbroke harmonie tussen die riete
van die dam-hier-digby
terwyl ‘n eensame uil melankolies sug
en die vreedsaamheid beaam.

In die sagte geruis van die briesie
fluister die verbeeldingstem:
Hierdie wêreld ken nie die konstante gedruis
van ambisie en materialisme en liefdeloosheid nie.
Hier is jou rykdom vrede
en jou lafenis rus.

Text

Reis; Nostalgie; Verlange

Reis.
Verken.
plekke bewonder
mense dophou
atmosfere inneem
bewondering.
sin.
liefde.

Nostalgie.
Herinnering.
ervarings her-leef
emosies her-voel
idees her-dink
inspirasie.
waardering.
liefde.

Verlange.
Melankolie.
om te mis wie jy nie ken nie
om liefde self lief te hê
om dankbaar te wees vir lewe
spiritualiteit.
lewenslus.
liefde.

Text

perspective

Open up
to the brightness of life
to the brilliance of existance
to the exhilaration of the now.

Open up
to love
to inspiration
to good music.

Text

afsluiting

‘n enkele skryfboek lê op my tafel
my pen nêrgens te sien nie
(my gedagtes is klaar verewig)

my laai gaap die wêreld aan met ‘n bek vol herinneringe
en verkondig die onomseilbare boodskap

êrens in die mikrokosmos rol ‘n traan teen ‘n denkbeeldige wang af

Text

Verdonker.

Ek kyk uit oor blougrys wolke,

donker teen die agtergrond van ‘n ligblou hemel.

‘n Swart arend sny die prentjie stadig, geluidloos

En die son gooi desperaat haar laaste strale

voordat alles

verdonker.